AFSONDERING EN ONTTREKKING IS BYBELSE BEGINSELS

 

In hierdie laaste dae waarin ons lewe, is dit noodsaaklik om te besef dat die Woord van God ons leer om as weergebore Christene afstand te doen van baie dinge wat vir God onaanvaarbaar is. Meer as dit, ons moet ons selfs in sommige gevalle onttrek aan sekere mense en daarby leer die Woord verder ook baie duidelik dat daar selfs geleenthede is waar Christene hulle aan ander Christene moet onttrek. In hierdie dae waar die krete vir eenheid onder alle ‘Christene’ so geredelik opgaan, het baie egter al hierdie waarheid ver opsy geskuif ter wille van ‘samewerking’ met enigeen wat in ‘n ‘Christus’ of ‘n ‘Jesus’ sou glo. Aangesien so min Christene vandag nog die Bybel lees, besef hulle hoegenaamd nie dat dit is wat die Skrif van ons verwag nie. Daar is ook baie goeie redes waarom die Here wil hê dat ons afgesonderd vir Hom sal wees. Ons leef in ‘n tyd en uur waar die wederkoms van die Here Jesus Christus baie, baie naby is en daarom moet ons nie ophou om te onderskei tussen die waarheid en die leuen nie !

Die woord ‘heilig’ beteken dan juis ook om vir die Here afgesonder te wees sodat hy jou kan gebruik in sy diens.

 

Daar is ten minste 3 terreine waarvan die ware Bybelse Christen hom of haar moet afsonder of onttrek.

 

  1. Morele afsondering
  2. Dit behels afsondering van sonde en wêreldse begeerlikhede (Rom. 12:2; 2 Kor. 7:1; Titus 2:12; Jak. 4:4; 1 Joh. 2:15-17).

     

  3. Afsondering van valse leerstellings
  4. Ons moet ons duidelik afsonder van groepe of persone wat leringe verkondig wat in stryd is met die Woord van God. Die Bybel sê dat ons bewus moet wees van leraars wat ‘n ander leer bring en dat ons hulle moet vermy:

    "En ek vermaan julle, broeders, hou hulle in die oog wat tweedrag en aanstoot veroorsaak teen die leer wat julle geleer het, en vermy hulle."

    Rom. 16:17

    "As iemand iets anders leer en nie instem met die gesonde woorde van onse Here Jesus Christus en met die leer wat volgens die godsaligheid is nie … Onttrek jou aan sulke mense."

    1 Tim. 6:3,5

    "As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie."

    2 Joh. 10

    ‘n Bietjie suurdeeg maak die hele deeg suur, sê die Skrif ook baie duidelik. Daarom het Jesus selfs ook gewaarsku dat ons moet pasop vir die suurdeeg van die Fariseërs (die Skrifgeleerdes).

     

  5. Praktiese afsondering en onttrekking

Daar kom ‘n tyd dat jy moet oorgaan tot praktiese afsondering – nie omdat jy beter as iemand anders is nie, maar ter wille van die waarheid en die eer van God. Die Bybel is baie duidelik hieroor.

‘n Christen kan nie in dieselfde juk trek met ongelowiges nie:

"Gaan onder hulle uit en sonder julle af"

2 Kor. 6:17

"Gaan uit haar uit my volk … "

Op. 18:4

Pasop vir hulle wat net ‘n gedaante van godsaligheid het:

"Keer jou ook van hierdie mense af."

2 Tim. 3:5

"Aan ‘n man wat partyskap verwek, moet jy jou onttrek na die eerste en tweede vermaning,"

Titus 3:10

Selfs broeders moet in sekere gevalle vermy word:

"maar nou skryf ek aan julle om nie om te gaan met iemand wat, al staan hy as ‘n broeder bekend, ‘n hoereerder is of ‘n gierigaard … met so iemand moet julle selfs nie saam eet nie."

1 Kor. 5:11

"Ons beveel julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, dat julle jul onttrek aan elke broeder wat onordelik wandel en nie volgens die oorlewering wat hy van ons ontvang het nie."

2 Thess. 3:6

"En as iemand aan ons woord in hierdie brief nie gehoorsaam is nie, teken [merk] die man en hou geen gemeenskap met hom nie, sodat hy skaam kan word. En beskou hom nie as ‘n vyand nie, maar vermaan hom as ‘n broeder."

2 Thess. 3:14,15

 

Hierdie gedeeltes in die Skrif is baie ver verwyderd van die gedagtes van die meeste kerkgangers in ons tyd. Byna nooit sal daar ook oor hierdie verse en gedeeltes gepreek word nie. In ons dag gaan daar veel eerder stemme op vir ‘n groot breë ekumeniese eenheid wat totaal onskriftuurlik is en wat ‘n baie gevaarlike uiteinde sal hê.

Die Bybel sê ook juis dat daar partyskappe tussen Christene moet en sal wees, met ‘n baie goeie rede en doel:

"Want in die eerste plek hoor ek dat, as julle saamkom in die gemeente, daar skeuringe onder julle is, en gedeeltelik glo ek dit.

Want daar moet ook partyskappe onder julle wees, sodat die beproefdes onder julle openbaar kan word."

1 Kor. 11:18,19

Selfs Paulus en Barnabas se paaie het op ‘n stadium geskei en dit was verseker iets wat God toegelaat het met uiteindelike goeie resultate !

"Daar het toe ‘n verbittering ontstaan, sodat hulle van mekaar geskei het;"

Hand. 15:39

Jesus Christus het self ook gesê dat Hy nie na die aarde gekom het om vrede te bring (in hierdie teenswoordige bose wêreld – voor sy wederkoms) nie, maar dat Hy gekom het om verdeeldheid te bring. Ja, Hy het die waarheid gebring en dit bring skeiding tussen lig en duisternis tot op die fynste punt.

"Dink julle dat Ek gekom het om vrede op aarde te gee? Nee, sê Ek vir julle, maar eerder verdeeldheid."

Luk. 12:51

Die hoofrede vir al hierdie verdeeldheid, afsondering en onttrekking is eenvoudig net omdat die waarheid geen kompromie kan maak met die leuen nie. Dan sou alles uiteindelik so afgewater word, dat niemand meer gered sou kon word nie. Gelukkig is die Woord baie duidelik oor hierdie saak en hoef ons geensins daaroor te wonder nie.